Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat vra dat ’n ministeriële taakspan dringend op die been gebring word in die toenemende krisis wat entstowwe betref om bek-en-klouseer (BKS) doeltreffend, gekoördineerd en tegnies korrek te bestry.
Nico Buys, voorsitter van RPO in die Vrystaat, sê produsente bevind hulle tans in ’n onhoudbare posisie weens beperkte toegang tot tegnies toepaslike entstowwe.
“Hierdie situasie is nie die gevolg van ’n gebrek aan internasionaal erkende entstowwe nie, maar spruit hoofsaaklik uit administratiewe en beleidsbeperkings wat dringend reggestel moet word.”
RPO Vrystaat vra dat die voorgestelde ministeriële taakspan met ’n duidelike en afdwingbare mandaat toegerus word om onder meer die wetenskaplike identifisering van die korrekte Pirbright-entstofparing vir die heersende BKS-stamme in Suid-Afrika te hanteer.
Buys sê die onmiddellike magtiging van ’n toepaslike, internasionaal erkende entstof-invoer moet sonder verdere vertraging ingestel word.
Dit sal onder meer die beskikbaarheid van entstof aan private en staatsveeartse vir doeltreffende landwye gebruik versnel.
“Dit sal ook ’n kunsmatige skaarste en verspreidingsvertragings voorkom, wat tans die vryemarkentstof-prysbepaling kan versteur. Die huidige benadering plaas produsente, uitvoermarkte en nasionale voedselsekerheid onder ernstige druk. Doeltreffende siektebeheer vereis tydige toegang tot tegnies korrekte entstof en volhoubare samewerking tussen die staat en die private sektor.”
Die RPO Vrystaat se beroep op John Steenhuisen, minister van landbou, is dat hy binne ’n duidelike tydraamwerk optree en die nodige bevoegdhede aan ’n taakspan oordra om die verdere verspreiding van BKS te voorkom.
