BKB Kompleks, Bloemskou, Curielaan, Bfn 079 529 5000 rpofs@rpo.co.za
Bek-en-Klouseer - Bewegingsbeheerplan (Wes-Kaap)

Bek-en-Klouseer - Bewegingsbeheerplan (Wes-Kaap)

Agri Wes-Kaap en die Rooivleis Produsente-organisasie (RPO) Wes-Kaap bevestig dat daar ʼn omvattende operasionele plan saamgestel is in samewerking met die Wes-Kaapse Departement Landbou Veeartseny (DWLK) om die huidige Bek- en Klouseer situasie (BKS) in die Gouda-area te bestuur.

Die plan fokus op die beheer, monitering en voorkoming van verdere verspreiding van die siekte, met spesifieke aandag aan die gebied rondom Gouda, waar ʼn uitbraak van Bek- en Klouseer bevestig is.

Agri Wes-Kaap en alle rolspelers besef die risiko wat die verspreiding van die siekte vir nie net die rooivleisbedryf inhou nie, maar ook die totale Wes-Kaapse landbousektor. Die bewegingsbeheerplan is spesifiek gestruktureer om as riglyn te dien vir samewerking tussen regering, georganiseerde landbou en plaaslike rolspelers – met die doel om die siekte te beperk, te beheer en uiteindelik uit te roei.

SAMEWERKING TUSSEN SLEUTELROLSPELERS:

Die plan definieer die verantwoordelikhede van elkeen betrokke:

• Departement van Landbou: Veeartsenydienste – Hoofagentskap vir siektebevestiging, kwarantynbeheer, toetse en epidemiologiese opsporing ingevolge die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984).

• Agri Wes-Kaap (AWK) – Koördineer die samewerking tussen regering en die landbougemeenskap; lei kommunikasie; bewusmaking, logistieke ondersteuning en hulpbronne vir biosekuriteit.

• Provinsiale Verkeersdepartement en SAPD – Stel padblokkades en beheerposte op, verseker nakoming van diere vervoer maatreëls, en handhawing van kwarantynmaatreëls.

• Distriks- en plaaslike owerhede (Kaapse wynland – en Weskusdistrikte) – Bied rampbestuur, gesondheid- en logistieke ondersteuning en koördineer plaaslike operasies.

• Produsente en landbou-organisasies – pas streng biosekuriteit op plase toe, hou besoekers- en voertuiglogboeke by, ontsmet gereeld, en rapporteer enige verdagte gevalle onmiddellik.

 

OPERASIONELE MAATREËLS:

Die plan stel ʼn 10 km – biosekuriteitsbeheergebied vas met die plaas as middelpunt. Binne hierdie sone sal alle beweging van diere, voer en moontlike besmette materiaal streng beperk word.
Die Departement van Vervoer het aangedui dat hulle vanaf 7 November drie padblokkades aktief gaan beman – twee op die R 46 en een op die R 44 – waar alle voertuie wat diere vervoer, ondersoek word. Vervoerders word daarna herinner om die nodige dokumentasie byderhand te hê, insluitend:

• Eienaarsverklaring
• Ontvangerverklaring vir vee
• Sertifikate ingevolg Afdelings 6 en 8 van die Veediefstalwet

Indien die vereiste dokumentasie nie beskikbaar is nie, moet die Staatsveearts onmiddellik in kennis gestel word vir opvolg. AWK het ook die gebruik van LPR-tegnologie (outomatiese nommerplaatherkenning) voorgestel om voertuigbewegings binne die beheergebied te monitor.

VORDERING VAN VOLGENDE STAPPE:

• Inenting van die besmette diere sal vandag plaasvind as deel van beheermaatreëls.
• Na inenting sal ʼn 14-dae-waarnemingstydperk geld voordat die diere – mits geen nuwe simptome voorkom nie – by ʼn reeds geïdentifiseerde abattoir geslag mag word.
• Die gesamentlike Operasionele Sentrum (JOC), onder leiding van die Departement van Landbou, word geaktiveer vir deurlopende monitering, data-insameling en koördinering van optrede.
• AWK fasiliteer daaglikse situasieverslae (SITREPs) aan alle betrokke partye en ondersteun kommunikasie met produsente deur middel van radio, WhatsApp-groepe en ander platforms.

 

SAMEWERKING EN VOORDURENDE WAARKSAAMHEID:

“Die spoed waarmee hierdie plan saamgestel en geïmplementeer word, wys die waarde van ʼn goeie gekoördineerde vennootskap tussen georganiseerde landbou en die regering,” sê Louis Wessels, Regsbestuurder Agri Wes-Kaap. “ons bly gefokus op die beskerming van die provinsie se vee-sektor en die handhawing van biosekuriteit op elke vlak.”

Jaco van den Berg, voorsitter van die RPO Wes-Kaap, voeg by: “Bek-en Klouseer is ʼn ernstige risiko vir die rooivleisdbedryf, meer met dissipline, samewerking en deursigtigheid kan ons die impak daarvan beperk en uiteindelik die siekte uitroei.”

 

WEEREENS N VERSOEK AAN ROOIVLIESINDUSTRIEROLSPELERS:

• Moet nie diere van BKS-besmette areas of areas onder bewegingsbeheer aankoop of vervoer nie.
• Dit is riskant om diere op ʼn veiling buite die Wes-Kaap Provinsie te koop, koop slegs by veilings wat aan die APAC voorskrifte voldoen.
• Voertuie wat diere vervoer moet gewas en ontsmet word nadat diere afgelaai is en voor diere weer opgelaai word – ʼn sertifikaat wat die datum, tyd en ontsmettingsmiddel aandui wat gebruik is, moet ten alle tye dié voertuie vergesel.
• Voermateriaal wat diere vergesel, moet vernietig word.
• Verkry ʼn gesondheidsertifikaat deur ʼn privaat veearts van diere wat aangekoop word, veral diere wat aangekoop was/is buite die Wes-Kaap Provinsie.
• Meld enige verdagte BKS gevalle onmiddellik by u naaste staatsveearts aan.

Ons doen weer ʼn beroep op produsente om hul eie biosekuriteitsmaatreëls te hersien en te versterk, en om alle beweging van diere in of uit die kwarantyngebied aan te meld via die departement se vraelys - https://tinyurl.com/AnimalMovementApp

 

WES-KAAP BEK-EN KLOUSEER WERKGROEP

ʼn Vergadering van die Wes-Kaap Bek- en Klouseer Werkgroep, wat alle organisasies en rolspelers bevat, sal vandag 7 November gehou word om te verseker dat die korrekte en relevante inligting versprei word.

 

ANIMAL INDENTIFICATION, MOVEMENT AND SAFETY SYSTEM (AIMS)

AWK en RPOWK het reeds ʼn naspeurbaarheidsplatform in die Wes-Kaap geloods wat enige veeprodusent kan benut om die naspeurbaarheid van hul diere te verseker. Die sisteem is gratis en integreerbaar met kuddebestuurstelsels. U kan die AWK webtuiste besoek of die sisteem aflaai by - https://awkaims.co.za/

Agri Wes-Kaap en RPO Wes-Kaap bedank die Departement van Landbou, die Staatsveeartsenydienste, die Verkeersdepartement, betrokke Munisipaliteite en alle betrokke rolspelers vir hul vinnige optrede en samewerking.

Kontak Inligting

BKB Kompleks, Bloemskou, Curielaan, Bloemfontein.

rpofs@rpo.co.za

079 529 5000

RPO Vrystaat
Volg Ons